Bloed

Ek staan op, trap op die plas bloed langs my bed. Maak my bed op en vee die bloed egalig oor my duvet. Ek trek my klere aan, bevlek met bloed oral, deur elke stukkie garing. Ek eet kos wat dryf in bloed, vat 'n slukkie koffie en drink bloed om my liggaam te verhit. Ek werk, met bloed wat drup van my hande af, soos ek raak aan mense wat elkeen opgestaan het in hul eie plas bloed, geklee in hul eie bloedbevlekte kledings, wat gedrink het van hul eie koppie bloed.
En ons almal stap deur gange waar bloed drup vanaf die dak, oppad na ons bloedbevlekte karre, waar bloed spat as ons ons deure toemaak. Ons dade word tasbaar deur bloed wat vloei en deurdring vanaf elke stukkie liefde, omgee en sorg.
Netsoveel word elke daad van sonde deurdring deur bloed, soos 'n vuil spons wat aanhou bloed uitbring, ongeag hoe baie dit gedruk word.

En so leef ons in, rondom en deur bloed.
Bloed wat nie kies wat dit eerder sal deurdring of eerder sal bevlek nie.
Bloed wat vloei, ongeag ons.
Bloed wat drup, ongeag ons.
Bloed wat deurdring, ongegag ons.

Bloed wat ons verdrink, ongeag ons.