Branders
Jy stap die see in. Voor jou in die verte kweek 'n rowwe storm op. Net agter/langs dit sak die son, met die asemrowendste kleure en patrone in die wolke. Met blou lug wat tussendeur verskyn.
Jy is bewus van die storm.
Jy is in bewondering van die sonsondergang.
Albei redelik in die afstand steeds.
Die kontras.
Miskien is albei daar vir perspektief behou?
Nie dat dit een noodwendig jou huidige situasie fisies regtig beïnvloed.
Want my huidige, is die branders.
Die perfek gevormde, beplande branders.
Wat elkeen verskil in grootte ; verskil in die krag waarmee dit óf my omslaan, óf waarmee ek dit kan uitswem strand toe.
Ek sien die storm.
En ek sien die sonsondergang.
Maar die sonsondergang (die vooruitsig) laat nie die storm verdwyn nie.
En die storm (die beproewinge) vat nie die vooruitsig weg nie.
Die vooruitsig maak die beproewinge die moeite werd.
Die beproewinge maak die vooruitsig soveel mooier.
En die branders.
Die branders is wat ek geniet. Ek glo dis wat Hy regtig ook wil hê ek moet geniet.
Ja, sommiges slaan my om. En ja, sommiges swem jy uit en laat dit jou so ongelooflik lewendig voel vir daai oomblik.
Ek geniet die branders. Ek geniet die nou. (Asseblief onthou dit; asseblief voel dit; asseblief wees daar)
En asseblief kyk ook op om perspektief te behou.
En tussendeur jou swem (jou voel, jou teenwoordig wees, jou leef), sal jy besef die storm beweeg verby in die verte.
En die blou blou lug neem sy plek.