Goedewil
Met hierdie eerste ‘skryfstuk’, ‘leesstuk’, ‘deelstuk’, ‘blog-stuk’ (noem hierdie wat jy sou dink pas daarby) hoop ek hierdie kan ‘n tipe van inleiding wees vir wat nog sal kom, asook vir wat was, maar bowenal – vir wat is.
‘n Inleiding vir wat is, want alles anders spruit tog daaruit.
Want ons almal wil tog ‘is’, wil ons nie? Dis soms moeilik as gevolg van wat was, of wat nog sal wees. Maar ‘is’, is die wonderwerk, en ook die nodigste vir ons om te wees.
So my ‘is’ vandag, was om die ‘Goedewil’ grondpad afdraai te vat na Dullstroom vanaf Nelspruit, eerder as die hoofpad. Volgens GPS, 58 minute eerder as die 53 via die teerpad - wat wel op die ou end eerder verander het in ‘n uur en ‘n half.
Dis ‘n grondpad wat met tye effens onbegaanbaar lyk vir die gewone stadsmotor. Ek het wel na my vorige kar, ‘n VW Gholfi, besef: min paaie is onbegaanbaar – dit hang eenvoudig net af van hoe graag jy dit wil beleef.
So toe ry ek: oop landskap voor, langs en agter my, met min tot geen karre wat die grondpad met my deel. Die Laeveld styg stadig maar seker al hoër soos die Hoëveld begin oorneem. Musiek speel saggies in my kar. Mini stof tornado’s vlam elke nou en dan op en verdwyn dan in die oop graslande in. Verkeer bestaan uit perderuiters wat verby gallop op hul uithou-ritte.
Vir ‘n oomblik vra ek myself af: hoekom opsetlik kies om die grondpad te vat? Hoekom nie die geriefliker opsie kies nie?
Want soms kies ons die grondpad. Maar soms kies die grondpad ons.
Jou GPS sê 53 minute na die volgende bestemming, maar op die ou end arriveer jy ‘n uur en ‘n half later. Die pad lyk onbegaanbaar vir die voertuig waarin jy beweeg. Jou rat-verwissel ‘bekwaamheid’ word getoets tydens steil opdraande met los klippe.
Maar jy kom wel bo aan.
Die uitsig na waar jy op ‘n tyd was, is ‘n verligting. En met die uitsig na wat voorlê, skep jy ‘n asem (miskien juis omdat jy die pad wat reeds afgelê is, kan sien).
So hierdie is my Goedewil grondpad, waarin ek soms sal stop en terugkyk, soms sal vorentoe droom, of soms net sal sit en deel waar ek/ons tans is.
Ek nooi jou om saam met my te ry in my gedagtes, idees en manier van sien wat ek deel in die vorm van stories, gedigte en foto’s op hierdie grondpad wat ons lewe noem.
Mag Hy hierdie gebruik vir die ‘was’, ‘is’ en ‘sal wees’ in jou.