Die rolskaatser
Dis ongelooflik hoe God kan praat tot die diepste hoek van jou hart in maniere wat jy self nooit geweet het nodig sou wees om mee gepraat te word nie. Maar as jy dit hoor, of as jy dit sien, is dit asof daardie hoek van jou siel, van jou hart en van jou Gees, uitskree: “Dit! Dis dit! Presies dit.”
‘n Pa was besig om sy klein dogtertjie te leer hoe om te rolskaats in die park. Ek skat die dogtertjie so 5 jaar oud. Klein, fynste dogtertjie, met twee groot vlegsels wat hang aan albei kante van haar skouers. Die pa kan nie ophou glimlag nie.
Die ding wat my egter bygeval het, is die terrein waar hy haar leer rolskaats het. Dit was nie ‘n plat, harde oppervlakte nie. Dit was nie die ideaalste terrein vir iemand wat potensiëel bang kon wees vir wat die moontlike uiteinde sou wees indien sy val nie.
Dit was n steil bultjie met langerige gras en ongelyke oppervlaktes en ‘n baksteen muurtjie aan die heel onderkant. Sy was ‘n fyn en maer meisie, met haar knieë wat elke nou en dan heen en weer buig wanneer sy haar balans verloor.
Haar pa hou haar hand vas heel bo-aan die bult. Wat my byval, is die groot glimlagte op hul albei se gesigte. Asof die bult nie eens daar is nie. Asof dit nie so steil is nie. Asof haar beentjies nie soos twee fyn stokkies is nie. Asof sy hierdie al vir jare doen.
Hy hou haar linkerhand vas soos sy stadig begin afskaats. Die eerste paar keer val haar knieë redelik vinnig inmekaar en verloor sy haar balans.
Maar haar pa laat haar toe om te val.
Tog hou hy al die pad haar hand vas.
Hy laat haar toe om self op te staan.
Maar al die pad, hou hy haar hand vas.
Met die grootste glimlag. Met geen teken van vrees nie, selfs in haar val.
En sy met die grootste glimlag, ongeag hoe vinnig of hoe hard sy val.
As hulle onder kom, dan stap hulle weer hand aan hand op tot bo-aan die bult en begin sy dan weer stadig afskaats.
Soos tyd verby gaan, kry sy dit elke keer bietjie beter en makliker reg. Haar pa laat gaan op die ou end haar hand, en sy kry dit op die ou einde reg om alleen tot heel onder af te skaats sonder om te val en sonder om haar pa se hand vas te hou.
Maar tog, haar pa het elke liewe keer saam met haar afgestap. Hy het elke keer haar gehelp om weer tot bo te kom, net om weer haar hand te los sodat sy self weer kan afskaats.
Want ek glo nie ons is regtig so bang om te val nie. Ek glo nie vrees spruit altyd vanuit die potensiële besering nie.
Vrees kweek vanuit die gedagte dat ons moontlik alleen sal wees indien ons wel val. Dat jy in jou eie mislukkings, seerkry, foute of verlange, moontlik jouself sou moes ophelp – en so sukkel daarmee.
Maar hoe daardie meisie gestraal het in haar val, hoe haar glimlag getuig het van ‘n tipe sekuriteit wat selfs ‘n besering nie van haar sou kon wegvat nie. Want sy het geweet haar pa is al die pad daar – of hy nou haar hand vashou of nie, hy was daar. En hy het geweet wat sy plan is daarmee om juis hierdie steil bult en ongelyke oppervlaktes te kies.
Want hy het nie die val gevrees nie, maar eerder uitgesien om net haar hand te kan vashou -terwyl sy val, terwyl sy leer en terwyl sy groei.
So mag jy weet Hy ken jou terrein en Hy het dit so strategies gekies – met sy moeilikhede, met sy seer, met sy verlange.
Maar mag jy weet dat Sy hart so groot glimlag in die proses van jou leer val, want Hy kry die kans om jou op te help. Om jou te leer leer, want Hy is ‘n God van bemeestering. Om jou te leer groei, want Hy vind vreugde daarin om jou te sien verander na Sy beeld.
So mag jy met ‘n glimlag leer skaats by jou bult af.
Mag jy val.
Mag jy leer.
Mag jy groei,
en mag jy weet,
Hy glimlag saam.
Hy beskerm
en Hy ken die ingebore professionele rolskaatser in jou.