Die sig in blind-wees

Ek en ‘n paar vriendinne het verlede jaar November Mount Kenia gaan klim. Na ‘n hele jaar van aan-en-af beplan aan ‘n moontlike oorsese vakansie, het ons besluit om die avontuurlustige opsie te kies van Mount Kenia klim - die tweede hoogste piek in Afrika, naas Kilimanjaro.

Na vier dae van stap in diverse natuur-omgewings wat wissel van reënwoudagtige areas tot Karoo-tipe plantegroei, tot Mars-agtige oppervlaktes bedek met massiewe klippe, het die oggend aangebreek wanneer ons die laaste deel sou opklim na die bergpiek Mount Lenana, 4985m bo seespieël.
Die piek was al die vorige dae duidelik sigbaar vanaf ‘n afstand, met helder blou lig wat sy agtergrond inkleur. Maar hierdie oggend was ‘n ander storie.

Ons het 03:00 die oggend begin klim in ‘n pikdonker en koue oggend, met jou vingers wat voel of hulle enige oomblik gaan afvries as jy vir ‘n splitsekonde jou dik handskoene sou afhaal om verder aan jou mini ontbyt te eet.
Na ‘n steil en stewige opdraend het ons die rif van die berg bereik. Teen hierdie tyd was dit steeds donker met ‘n ysige wind wat regdeur jou klere sny – hoe dun of dik jou lae klere okal was.
En die volgende oomblik, tussendeur baie koud kry, min sien, en ook nie juis weet waarnatoe ons mik om te stap nie, begin klein sneeuvlokkies vanuit my periferie in my sigveld in val.

Ek onthou die universele reaksie van my en my vriendinne. Een van ongeloof, opgewondenheid en verras wees. Al hierdie saamgevat in ‘n klein gil of lag (afhangend van persoonlikheid.)
Van daar af het ons tree vir tree opgeklim en geklouter tot by die bergpiek.

En dis waar ek wil stilstaan. Die deel waar ons tree vir tree gestap het. Sonder sig. Sonder rigting. Verskriklik koud. Maar ons volg ons stapleier – want hy weet waarna ons oppad is.

Hoe gereeld is hierdie nie jou staptog nie?

Een van stap sonder ‘n idee in watter rigting, waar jou piek is, of wat die volgende tree gaan inhou – dalk nog ‘n gly, dalk ‘n afgrond, dalk ‘n opdraend, dalk ‘n struikelblok, dalk niks. Dalk ‘net nog ‘n tree’ (wat soms frustrerend op sy eie manier kan wees).

In Efesiërs vertel hulle Paul (aanvanklik eers Saul) se storie. Die Here het aan hom verskyn en gevra hoekom hy besig was om Hom te vervolg. Saul se reaksie was: ‘Wie is U, Here?’ (Hy het dus wel miskien geweet). ‘n Helder lig het aan Saul verskyn en hy is blind gemaak deur die Here. Die Here se opdrag aan hom was toe om terug te keer na sy dorp en dat die mense daar hom sal sê ‘wat volgende’.
So is hy blind terug na sy dorp, en is Ananias die opdrag gegee deur die Here om hande te gaan oplê op Saul sodat hy genees sal word van sy blindheid.
Ananias gaan doen dit toe, en Saul kry sy sig terug, met ‘klappe wat van sy oë afval’.
En so is Saul se naam verander na Paul, en het hy sy regverdige aandeel in swaarkry beleef ter wille van sy geloof tydens sy tyd op aarde.

En soms is dit hoe die Here genuine ons vertroue wen.
Deur ons ‘blind’ te maak.
Miskien juis sodat ons nie weet wat of hoe of waarnatoe volgende nie.
Miskien sodat ons ontslae en bevry kan word van die 'eie ek'.
Sodat ons afhanklikheid en vertroue sal leer – in God, maar sowel as ons medegelowiges.

So in jou ‘tree vir tree’ vir waar jy jouself tans bevind, oppad na die piek wat Hy beplan, mag jy weet Hy is jou leier.
Mag jy nie bang wees om te trap in die rigtings waar Hy jou voorgaan nie.
Mag jy weet Hy voorsien in elke elke elke klein treetjie, asook reeds vir die een daarna.
Mag jy enige moontlike gly, afdraend, afgrond, opdraend, struikelblok of eenvoudig die feit dat hierdie ‘net nog ‘n tree is’, jou die nodige lesse leer wat nodig is vir daardie spesifieke seisoen in jou lewe – hoe kort of lank okal.
Mag jy die sneeuvlokkies langs die pad ook sien en waardeer. Sneeuvlokkies in die vorm van mense en geleenthede, maar ook in die klein alledaagse seëninge van eenvoudig lewendig wees.

En op Sy bestemde tyd, op Sy bestemde manier, mag jy stukkie vir stukkie jou sig terugkry om te sien soos Hy sien.

Maar mag jy ook altyd bereid wees om blind te wees,
om te vertrou soos net Hy vertrou kan word.