alt

Tussendeur die aardse en sy redenasies. Tussendeur die intellek en sy kennis. Tussendeur die gelowe en hulle wette – iewers tussen alles hiervan is ‘n fyn klein Stem opgesluit, wat harder praat as wat enige mikrofoon jou die geleentheid sou gee om te doen. Wat beter gesien word as iemand wat op ‘n podium staan. Wat dieper spreek as die mees verskuilde hoek van ons siel.

En iewers tussen al hierdie fasette wat ons koppe so aan die gang hou hier op aarde, iewers tussen al hierdie, is die klein fyn Stem so hard aan die skree aan ons harte, tog so sag aan die fluister aan ons koppe.

Want kry ons harte ooit die kans om soms te skree?
En kry ons koppe ooit die kans om te fluister, en laat hulle toe om na gefluister te word?

Want albei mis die eenvoud – in hulle geskree, en in hulle stilbly.

Want as die Stem sou fluister, sal my hart weet. Want my hart sal wil terugskree om erkenning te gee daaraan dat hy wel nog die vermoë het om te luister.
En as die Stem sou skree, sal my kop weet. Want my kop sal stilbly in erkenning dat hy nie alles weet nie, en regtig kan doen met nog kennis.

So miskien mis ons die eenvoud van die Stem. Miskien mis ons hoe baie gesê kan word in stilte. Miskien minag ons die duidelikheid van stilte. Miskien is die probleem nie by die kop of die hart nie, maar eerder by die sensitiwiteit van wanneer watter een wat moet doen.

Want kop – die Stem het groter kennis as jy.
En hart – die Stem sien en voel vele fyner as jy.

So in jou soeke om presies te verstaan wanneer die Stem wel praat, of hoe dit gaan klink, of hoe jy daarop moet reageer, of die presiese verstaan agter die dinamika van alles –
Mag jy net weet dis Die Stem.
Mag jy dit nie probeer verstaan nie, tog groei in jou begrip daarvan.
Mag jy dit nie probeer uitlê in jou aardse kennis daarvan nie, tog groei in jou Goddelike interpretasie daarvan.
Mag jy nie alles stapsgewys kan begryp nie, maar verlore raak in:
Die Eenvoud.