"Ek sien jou."
Ek glo ek skryf hierdie netsoveel vir myself as vir enigiemand wat dit sou lees. Mag dit verryk, vrede gee en ons laat groei in die kennis van Sy liefde - en Sy vermoë om ons raak te sien.
In die begin van die boek van Johannes waar Jesus Sy eerste dissipels bymekaar kry om Hom te volg, noem hulle dat Fillipus sy vriend Natanael gaan roep het om aan hom te vertel dat hulle die Man gevind het waaroor Moses en die profete oor geskryf het – Jesus, die Seun van Josef, van Nasaret.
Daar word nie veel anders genoem van Natanael nie, buite die feit dat Hy nie kon glo dat iets of iemand ‘goeds’ uit Nasaret sou kon kom nie.
Ek het ‘n prentjie in my kop dat Natanael dalk homself redelik afgesonder het van die meerderheid mense wat met ope arms Jesus ontvang het.
‘Watter goed kan daar dan kom uit Nasaret?’ was sy woorde.
Nasaret was ‘n vreemde klein dorpie op daai tyd, met geen spesifieke belangrike rede oor hoekom die Messias nou juis daarvandaan sou kom nie. So sy reaksie was verstaanbaar.
Maar in die groter prentjie - miskien het Natanael seergekry of opgegee in Sy verwagting van iets of iemand ‘goed’ om sy pad te kruis. Miskien het bitterheid iewers sy hart binnegedring, en noudat daar die moontlikheid is van iets of iemand ‘goed’ (ongeag van ‘waar’ dit vandaan kom), vind sy hart dit moeilik om te glo.
Miskien het Natanael alleen gevoel in watokal sy huidige omstandighede was.
Toe Natanael vir Jesus sien, sê Jesus: “Hier is ‘n ware Israeliet, ‘n man in wie daar geen bedrog is nie.” Natanael (vanuit sy verbasendheid) vra toe vir Jesus waarvandaan Hy hom ken.
En Jesus antwoord: “Ek het jou gesien onder die vyeboom nog voordat Fillipus jou gevind het.” En dadelik is Nataniel oortuig dat Hy die Koning van Israel is.
Maar, hoekom?
Hoekom deur ‘n eenvoudige opmerking van Jesus dat Hy vir Natanael sien sit het onder die vyeboom, het Natanael tot die geloof en oortuiging gekom dat Jesus werklik die Messias is?
Natanael het tien teen een onder die boom gesit, besig met sy lewe (en gedagtes, en situasies), ‘minding his own business’, miskien ook sonder enige verwagting om raakgesien te word.
Maar dan kom een Persoon en sê: “Jys Natanael. Ek ken jou. Ek het jou onder die boom sien sit nog voordat iemand anders jou kon vind.”
En is dit nie een van die grootste behoeftes van die mens nie?
Om raakgesien te word. Om geken te word. Om te weet Iemand weet waar jy is – in jou gedagtes, in jou hart, in jou lewe.
Hierdie storie en die dieper tema daaragter het my bygebly vir die afgelope paar weke. Miskien juis omdat die behoefte ‘om raakgesien’ te word, so ‘n universele behoefte is in die mens – hoe goed of hoe moeilik dit ook al gaan.
Die besef dat jy nie alleen is in jou situasie nie. Die besef dat iemand genuine weet. Die besef dat jy nog nooit oorgelaat was aan jou eie vermoë of keuses nie.
Ek is mal oor Jesus se reaksie op Natanael s’n. As ek dit in my eie woorde kan stel, sou dit wees:
“Ernstig nou? Jy glo ek is Jesus net omdat Ek gesê het dat Ek jou sien sit het onder die vyeboom? Genuine?! You ain’t seen nothing yet.”
‘n Behoefte dalk so ‘eenvoudig’, maar so ongelooflik belangrik vir ons menslikheid.
So mag jy weet Hy sien jou, onder jou ‘vyeboom’ – watokal jou vyeboom dalk huidiglik is. Hy sien die dieper dele in jou wat ander mense soms verby kyk. Hy sien die seer, Hy sien die struikelblokke, Hy sien die alleenheid, Hy sien die goeie en die slegte - Hy sien jóú, in die volle omvang daarvan.
En soos in Natanael se geval, mag Hy vir jou soveel meer van ‘n werklikheid wees, mag jy soveel meer ontvanklik wees vir wat Hy jou verder wil wys, eenvoudig oor die feit, dat Hy vir jou sê:
“Ek sien jou.”