Om te eet selfs al kan jy nie proe nie
So om mee te begin, moet ek om verskoning vra vir my stilte. Maar ek vra nie om verskoning hiervoor vir enige potensiële leser van hierdie skryfstuk nie. Ek vra om verskoning vir die Stemmetjie wat sê “skryf”, en my onvermoë om stil genoeg te gesit het daarvoor hierdie jaar sover.
En wat ‘n jaar…wie sou kon voorspel dat die stilte soveel van ons sou kom stilmaak – soveel stiller as wat ons ooit vanuit vrye keuse sou wou wees. Stilte tussen vriende en families, stiltes in besigheidsgeboue, stiltes op paaie en in die lug, stiltes in stemme wat getref was deur hierdie pandemie.
Maar soos ons stilte ken, is sy vrugte nie altyd net sleg nie. Dit was ook ‘n tipe stilte wat ons laat herevalueer, herrangskik en hersien. Dit het ‘n tipe verandering teweeg gebring in die manier van doen, van kom en gaan en van ‘wees’, waaraan ons so gewoond aan geraak het. Wat so vrylik beskikbaar was.
Stilte het hard gepraat hierdie jaar.
So het maskers, hand saniteerders en sosiale afstand toe nie heeltemal die ding gedoen om my COVID-vry te hou nie. Ek was wel relatief lig getref, met slegs simptome soos sinusitis, lyfseer, moegheid – en by ver die slegste simptome vir my – die verlies van my smaak en reuksintuig.
Ek was behoorlik ‘opgestock’ met inkopies om my te hou vir die twee weke se isolasie. Dit het wel gevoel soos mors om goeie koffie of ‘n lekker bord kos te maak, as mens geweet het jy dit nie eens effens gaan kan proe nie. Dit het versoorsaak dat ek soms aspris etes oorslaan, of eerder warm water drink as om my koffie te mors. ;) En gee dit so paar dae, en jy kan dit voel aan jou lyf. Want ongeag die smaak (of tekort aan smaak) van die kos wat jy inneem, jou lyf kort die voedsel.
En dieselfde is van toepassing in ons geestelike lewens. Hoe vining is ons nie om op te hou eet as ons al ‘n tydjie lank niks proe nie. Hoe vinnig is ons om etes oor te slaan en net aan te gaan met ‘life as usual’.
En gee dit genoeg tyd, en jou Gees gáán begin swaarkry. Want ons liggaame kan nie vir baie lank lewe op gister se etes nie.
Hierdie jaar het die belangrikheid van ‘eet selfs al proe jy dit nie’ vir my kom vaslê. Ironies genoeg faal mens steeds soms selfs jy wéét jy hierdie les.
So miskien kom dit neer op die keuse.
Die kéúse van kos inneem selfs al is jou smaak sintuig steeds nie terug nie. Die kéúse van jou lyf voed selfs al raak jy nie eens meer honger nie.
Die keuse om die Gees in jou aan die lewe te hou. Die keuse om deur middel van selfdissipline weer die ‘kuns’ aan te leer van honger raak.
En gee dit ‘n paar dae – en jou sintuie sál weer begin proe, en ruik. En eet sál weer aangenaam wees. En jy sal kos uit vele ander kaste wil gaan soek.
Want ‘proe’ hoef nooit noodwendig die konstante te wees nie. Virusse, omstandighede en situasies kan daai te vinnig verander.
Maar ‘om te eet’ moet wees.
Want jou liggaam kort dit.
Sy tempel kort dit.