Onvermydelike groei

Ek wonder:

Wat dit is in jou;
wat dit is van jou;
wat my jou so laat bewonder.

Ek kan ure aaneen sit en sit en staar,
ek kan oggend na oggend met afwagting opstaan oor hoe jy dalk anders gaan lyk as gister,
as gisteraand,
as ‘n paar uur terug
(soms as ‘n paar sekondes terug).

Selfs ‘om te wag’ is opwindend.
Asof jy iets in my laat glo:
Dit sál kom;
dis onvermydelik.
Jy sal jou blare uitskiet
in hierdie sekonde,
of die volgende uur,
of die volgende dag,
of eenvoudig wanneer dit jou seisoen is.

Jy laat my glo dat groei onvermydelik is.
Jy my laat glo dat ek self nie stagnant is nie.
Jy laat my glo dat ek groei.

Ek kry die kans om toe te kyk soos Hy na ons kyk:
sekonde na sekonde,
uur na uur,
oggend na oggend.

En juis daaroor:

Die feit dat Hý toekyk,
maak groei onvermydelik.