Oorgawe

‘n Vriendin het haar orgideë ‘n jaar terug vir my gegee om voor te sorg siende dat hy baie naby aan sy einde was. Sy blare was verlep, sy wortels verdroog, met geen defnitiewe teken van lewe wat moontlik sou kon spruit uit sy huidige toestand nie.

Ek het hom ‘ingeneem’, met baie min kennis van presies hoe mens sorg vir ‘n orgidieë. Maar tog met die ‘challenge accepted’ mentaliteit.

Ek het begin deur sy wortels effens te snoei, en die plantjie oor te plant in nuwe grond. ‘n Hele paar maande het verby gegaan voordat die eerste tekens van lewe gewys het in die vorm van klein groen blaartjies weggesteek in die holte gevorm deur die groot blare wat teen daai tyd reeds verlep het.

Die hoeveelheid water benodig was altyd maar ‘n raaiskoot. Want wat presies is te veel en wat presies is te min wanneer dit voel of lewe en dood ewe gewigtig wankel in die toekoms van hierdie plant?

Klein blaartjies het groter blare geword, en verdroogde wortels het effens meer groen begin voorkom met die opgewondenheid van groei deur ‘n steeltjie wat effens langer geraak het as wat hy was die aand vantevore.

‘n Jaar daarna het die orgidieë sy eerste knope gevorm. En na ‘n paar dae vir die eerste keer geblom.

Die helderste donkerpienk klein orgidieë blommetjies. Perfek gevorm, perfek gekleur, perfek natuurlik.
In retrospek was die afwagting van lewe die opwindende deel. Die ‘nie-weet-wanneer-presies-gaan-hy-blom-of-tekens-van-lewe-wys-nie’.

Maar dit verg wel geduld vir die tussentyd. En omgee. En toegewydheid.

Maar my grootste les: “not he who plants, nor he who waters, but God who gives the increase’.

Ek het ‘n bydrae gehad. God het my deelgemaak van die proses. Maar die uiteinde en die vrug wat wel gedra word aan die einde is uiteindelik totaal en al God s’n.

So alle eer aan Hom.

Alle eer aan ‘n God wat ons deelmaak van die proses in ons en ons naaste se lewens. Wat ons vrye wil gee oor besluite, en waarin ons ons aandag, liefde en omgee in belê.

Maar wat op die ou end wel so totaal in beheer is van elke klein fyn detail.

So mag jy met toewydheid ‘water gee’ aan wat God tans op jou skinkbord gesit het om aan aandag te gee. Mag jy dit doen met toewydheid. Met omgee en liefde.

Maar mag jy ook leer om te laat gaan. Om elke dag so in totale oorgawe te lewe dat God met elke klein oorwinning of mylpaal (hoe klein of hoe groot okal), die glorie sal kry.

Mag jy so in oorgawe lewe dat die kleinste blommetjie wat spruit uit jou proses, al die glorie en eer terug sal wys na God – wat die algehele bepaler is van wanneer daai blom in jou lewe sal opspruit en hoe dit sal lyk, maar bowenal:

Dat dit sal terugwys na ‘n God soveel groter en kragtiger as ons eie menslike vermoëns, maar so onbeskryflik lief vir ons, dat Hy hierdie proses juis sáám met ons wil doen;
dat Hy aan die einde sáám met jou sal sit en in verwondering staar na die onbeskryflike detail opgesluit in jóú helder donkerpienk orgidieë blommetjie.