Papsopnat.
Ek het omtrent so twee maande gelede ‘n katjie as geskenk gekry. Na vele opsies en voorstelle (en in die tema van hierdie skryftuk), is sy (letterlik) gedóóp met die naam, Chloe.
Chloe: die swart, gemmer en wit katjie, met ‘n oormaat persoonlikheid, en ‘n effense tekort aan dissipline.
Tussendeur hierdie grootraak proses, is sy al deur vele avonture en het sy al ‘n verskeidenheid vaardighede aangeleer – onder andere kan sy gemaklik op my skoot slaap in my kar teen 120km/h wanneer ek op ‘n ekspedisie gaan na die plaas waarvandaan sy kom.
Een vaardigheid wat sy wel nog nie kon bemeester nie, is haar vermoë om nie in te gee aan haar nuuskierigheid nie. Nuuskierigheid wat tot dusver op twee geleenthede al tot haar ongerief gelei het.
Die eerste insident was waar ek ‘n bad vir myself getap het, en haar nuuskierigheid haar gelei het na in dit inspring. Na ‘n geskree en ‘n gespartel, kon ek haar uithelp en het sy gelyk soos ‘n veelkleurige klein rot :). ‘n Vaardigheid wel aangeleer tot haar voordeel, is haar vermoë om nie te skrik vir ‘n haardroër nie.
Na hierdie insident kon ek haar dus rustig vashou en geleidelik op die laagste stelling van die haardroër droogblaas. Effens vreemd om te aanskou, maar sy het hierdie droogblaas sessie regtig geniet.
Die tweede insident was toe ek en my woonstelmaat rustig in ons eie kamers was. Na ‘n skielike water ‘blaps’ in die badkamer, hardloop Chloe sopnat uit en besef ons dat haar nuuskierigheid (en dalk dors?) haar hierdie keer in die toilet in gelei het.
Weereens, na ‘n droogblaas sessie (en bietjie van ‘n skoonmaak;), is haar avonture voortgesit.
En in my ervaring tot dusver in die lewe, is dit hoe die Here (onder andere) met ons werk.
Hy geniet ons, so verskriklik baie. Hy geniet die grootword proses, die vaardighede aanleer en ek wil ook glo - Hy geniet ons nuuskierigheid.
Maar soms lei ons nuuskierigheid ons na plekke wat ons eie ongerief tot gevolg het. Of dit ongehoorsaamheid sou wees, of eksperimentering, of blote ‘oblivion’ van wat sou volg.
Ek besef in my eie lewe, het ek ‘n prentjie van ‘n belt of ‘n pakslae wat om die draai wag net nadat ek besef (of erken) het wat ek aangevang het. En “by all means”, die Here het nodig om ons te dissiplineer. Hy het nodig om ons te skaaf na Sy beeld. En soms vat dit ‘n pakslae, op watter manier okal die Here dit toedien in jou spesifieke situasie.
Maar wat ek besef het na Chloe se tweede insident, is dat die Here altyd altyd altyd regstaan met die haardroër.
Sy wil is nooit om jou papsopnat eenkant in ‘n hoekie te laat staan en bang te laat wees vir teregwysing nie.
Hy wil jou toedraai en omvou met Sy liefde en omgee. Hy wil jou droogblaas met Sy haardroër, en jou nog skoner en mooier na afloop van jou individuele insident laat uitkom.
Hy wil jou reghelp en leer om jouself te beskerm – vir jou eie beswil.
Hy wil jou leer.
Maar asseblief, asseblief, asseblief, onthou:
Hy wil jou liefhê.
Want:
“His goodness leads us to repentance.”