alt

Ek dink die tyd waarin ons onsself tans bevind, konfronteer ons met ‘n baie diep swakheid van die mens.
Dit konfronteer ons met ‘n baie diep leuen oor onsself, asook een wat ons glo van die Here.
Netsoveel konfronteer dit ons met juis die waarheid – en o, het ons nie ‘n moeilike tyd om hierdie waarheid te glo nie.
Ons is frustreerd, bang, geïrriteerd - en elke nou en dan vergeet ons selfs hoekom ons is.

Ek het 'n video gesien van ‘n Italiaanse man wat ‘n brief skryf aan die wêreld as COVID-19, waarin hy verduidelik wat al sy redes is vir hier wees. Hy verduidelik watter lesse hy als ‘gekom het om ons te leer’.
Maar miskien meer as sy rede vir hier wees en wat hy ons als leer, is die lesse wat ons onsself (moet) leer in hierdie tyd ; miskien juis net vrae en waarhede wat net sy teenwoordigheid dalk tot stand sou kon bring.

So ons swakheid?

Ons swakheid begin by die tuin van Eden. Waar Adam en Eva geëet het wat hulle nie moes eet nie.
En ons swakheid duur voort deur die vermoede dat die moderne mens steeds maar dinge eet wat hulle eerder nie moes nie.

Ons swakheid is ons wanpersepsie dat ons God kan wees – dat ons God is. En vanuit hierdie persepsie, ons onvermoë om te kan stop.

Ons onvermoë om te kan “Bedaar en erken dat Hy God is.”

Want is ‘stop’ nie maar gelykstaande aan ‘bedaar’ nie?
Is ons gejaag na wind nie ook ons rede vir onsself iewers verloor, en ons eindelose soeke na meer, na beter, na nóg nie?

Miskien moet ons stop, juis sodat ons kan bedaar.

“Bedaar en erken dat Hy God is.”

Nie ons nie.

Ons word konfronteer met ons onvermoë om te kan stop.

En wat ‘n beter manier is daar nie om te stop en oor te gee, wanneer stop en oorgee al is wat jy oor het om op te vertrou nie.

So mag jy daardie stryd binne jouself uitwoed tot jy op die punt van oorgawe kan kom.
Mag jy bedaar, en besef dat soms, is ‘n belangrike deel daarvan, om fisies te stop.
En mag jy besef, die Here is God.
Nie ons nie.
(Gelukkig nie ons nie.)