Vermyding / Verlange
Ek en ‘n vriendin was onlangs by 'n vakansie-oord. Die plek het 'n hele paar wilde katte wat ronddwaal op die terrein, besig om rond te jag in die bosse vir prooi, of aan die wag vir 'n nuwe besoeker wat bereid is om hul kos te gee in ruil vir die moontlikheid van aandag gee aan hulle.
Ons het rustig rondgesit, en sien toe een van hierdie wilde katte nader kom. Mens kan die wildgeid in hulle oë sien - terselfdetyd die behoefte om aan aandag gegee te word.
Die kat kom nader, en soos ons so te sê in tale praat en fluit om hom nader te laat kom, skree die kat in vele tale terug.
Die rede vir skryf oor hierdie oomblik, is die behoefte in hierdie kat vir die potensiële liefde wat reg voor hom (of haar) staan.
Tussendeur die wildgeid in sy oë, het sy stem sy behoefte weerklink.
Met elke poging van nader kom aan die kat skarrel hy weg, maar net ver genoeg om steeds naby genoeg te bly. Elke keer met nog 'n skree in sy stem. Ons het geen kos gehad nie, so ek glo nie sy skree was een van hongerte nie.
Wat my bygeval het, en waarmee ek kon vergelyk, was dalk die behoefte wat ek in myself ook kon identifiseer van liefde.
Liefde wat so maklik gegee wil word vir ons, maar waarvan ons so wegskrum.
Liefde wat kan genees, maar waarvoor ons bang is dalk nog 'n hou kan uitdeel, en bydra tot die rou wond wat reeds daar is.
Liefde wat ons kan voed.
Liefde wat geduldig is, maar wat ons dink ons gaan oorweldig as ons dit 'n kans gee.
Ek glo die Here was soos ons, wat ons hand uitsteek, en met geduld en liefde en empatie ons oral agterna roep, met die hoop dat ons nader sal kom, om dit te ervaar vir die opregte bedoeling waarmee dit bewys word.
So mag jy stop en raaksien wanneer Sy hand uitgesteek word.
Mag die wildgeid in jou hart wat jou laat weghardloop, genees word deur Sy geduldige liefde.
Mag jy besef jys veilig daar.
Mag jy nader stap, en mag jou vrese uit jou verlede een vir een verdwyn.
Mag jy vinnig omdraai wanneer jy weggeskrik het.
Mag jy besef dis waar jy wíl wees; dis waar jy nodig het om te wees.
En mag jy gevoed word met Sy liefde, vrede en empatie. Wat nie veroordeel nie, maar wat jou ‘streel’ en die pad saam sal stap van daar af.