Weerlig

(Hierdie was geskryf so paar jaar terug, maar soos meeste 'oomblikke' wat Hy gee, bly die boodskap ontvang daarin van toepassing vir ewig:)

Weerlig

Ek sit hier en bewonder die klein donderstorm in Pretoria. Elke nou en dan ‘n straal wat afskiet vanaf die Hemel en vir n oomblik die aarde verlig met sy krag. Vir n oomblik die aarde bewus maak van die onbeskryflike krag wat skuil in die wolke - die krag wat homself verborge hou tot daai een oomblik wat hy kies om die aarde te laat besef: “wow…”, met n effense vrees in hul stem.

Asof God ons daai krag gegee het. Daai verborge, onbeskryflike stukkie lewendige ‘elektrisiteit’ wat enigiets aards uit sy weg kan ruim. Die wolke is ons, die aarde is die wêreld opsoek na iets meer, opsoek na ‘n grootheid, opsoek na iets om voor te kan sê: “wow…”.

Want is almal nie maar eintlik opsoek na iets groter nie, iets meer? Dat dit iets ingebore is in ons om iets of iemand bo onsself te wil sit. Iets of iemand te kan aanbid. Iets of iemand waar jy glo jy jou krag vandaan sal kan kry. Wat jou sal kan uithelp waar jy kortkom.

Mag julle besef julle het die potensiaal om ‘n weerligstraal aarde toe te laat skiet. Dit wat vir jare besig is om belê en opgebou te word in jou, is wat jou potensiaal om Sy krag te weerspieel en te laat afskiet aarde toe soveel vermeerder. Die belegging en opbou is die moeilike proses, nes die klank en ‘kreun’ van die donderweer in die wolke wat getuig van die intense aktiwiteit wat aangaan in die hemelruim. Maar wow…

Hoe die aarde in bewondering gaan staan as daai opgestoorde krag in jou losgelaat word. As jou Weerligstraal vir ‘n oomblik sy pad vind in iemand se lewe in. Mag julle sensitief wees vir daai oomblikke. Mag julle weet as die Stem uit die Hemel sê aan die potensiële elektriese energie in jou wolk: ‘Nou’. Mag jy weet waar om te tref. Want elkeen hunker na dit in ‘n spesifieke unieke area in hulle lewens.

En mag die aarde van daai een person nooit weer dieselfde wees nie. Mag die onbeskryflike lewendige ‘Elektrisiteit’ in jou alle aardsheid uit die pad ruim, om lewe te gee, om lig te gee. Om vir ‘n oomblik die stukkies lewe in die persoon wat hunker na daai elektrisiteit, te verbind met Hemel.